[('af.input.test.jpg', ['het. Anna is weg, hy weet nie of hulle haar saamgevat het nie. “Ek\nsal nie rus voor ek haar kry nie,” het hy gesê.\n\n“As ’n huis daardie tyd vyfhonderd pond gekos het en jy laat die\nsom van die skade groei teen ’n saamgestelde koers van tien per—\nsent, is dit nou seker al ’n miljoen rand,” sê Gerbrand. “Ek sal dit ’n\nbietjie uitwerk, dan sê ek eendag vir oom Hannes wat Oupagrootjie\nverloor het.”\n\n“Die skade kan ’n mens nie in geld meet nie,” sê oom Hannes.\n\nHulle het die spoor van die Kakies die volgende dag gekry. Op pad\nKlerksdorp toe met twee muilwaens waarop hulle die vrouens en\nkinders gelaai het, en; die goed wat hulle uit die huise gevat het voor\ndit brandgesteek is. Die konvooitjie het nog ’n paar plase aangedoen.\nDit het hulle vertraag, sodat hulle nie meer as ’n dag te perd voor die\nVier Boere was nie.\n\n’n Man in ’n grys toeknooptrui, een van die ouetehuisinwoners,\nkom hoor by oom Hannes of ons sy kinders is.\n\n“Susterskinders," verduidelik hy. Ek is ’n neef en Gerbrand my\nseun. “En daai klein pienkvoet is al glad drie geslagte ver van my\naf.”\n\nClarisse staan met die baba op en stap na die Coca—Colakas toe.\n“Wil julle ook hê?" Sy druk muntstukke in die gleuf en kry ’n paar\nrooi blikkies. Sy knip dit vir ons oop.\n\nDie eerste keer wat ek op Bles gesit het, was saam met my broer-\ntjie, en oom Hannes het die teuels vasgehou. Ek het nog ’n foto van\ndie geleentheid. Boetie Sarel wat so soet kon glimlag, lyk hoogs\ntevrede agter my met sy arms om my lyf. Waterkiewietjies het onder\nby die dam gekrys. Die klonkies moes hulle op hul nes gesteur het.\nEn dit was amper sononder. Die tyd wat jy die miSvure kon ruik as\ndie wind van die strooise se kant af kom.\n\nOom Hannes het al my vrae oor die oorlog beantwoord. Oor die\nSlag van Paardeberg waar generaal Cronjé oorgegee het. Oor Ma-\ngersfontein, Elandslaagte en oor Spioenkop. Hy het my ’n Mauser\nvan ’n Lee Enfield leer onderskei. En ek het die verskil tussen die\nsoorte bandeliere geken; die Boere s\'n was beter met vyf koeëls in\nelke sakkie. En hulle hoede was aan die regterkant opgeslaan. Oom\nHannes het geweet wat daardie tyd gebeur het. Hy was Ma se oudste\nbroer wat net twee jaar na die oorlog gebore is. Toe het oupa ]an\nStrydpoort se huis al herbou en daar was weer vee in die vleikamp.\n\nEk het nie net die stories onthou nie; dit was asof ek sélf die\ntragedie van die oorlog beleef het. In my verbeelding was ek saam\n[80\n'])]